SPROKIE: DIE DRIE VARKIES…..


Ons almal ken die verhaal (sprokie) van die Drie Varkies. Het julle geweet dat daar eintlik vier verskillende weergawes  is van die Drie Varkies?

* Die Tradisionele Weergawe.

** Die Moderne Weergawe.

*** Die Christelike Weergawe.

**** Mamma Arnell se Weergawe.

Mmmmm…. Gedink julle sou nie weet nie. Wel, vandag gaan ek dit met julle deel…. Geniet Vriende!

1.  DIE DRIE VARKIES (TRADISIONELE WEERGAWE)

Daar was eenmaal ‘n ma-vark wat drie klein varkies gehad het. Toe hulle mooi groot was, het sy vir hulle gese: ” Julle is nou te groot om langer hier te bly. Julle moet weggaan en julle eie huise gaan bou. Maar pasop dat die wolf julle nie vang nie!” Die drie varkies het hulle goedjies gevat, hulle ma gegroet en begin stap. ‘n Entjie verder het hulle by ‘n man gekom wat ‘n bondel stooi op sy rug gedra het. Die eerste varkie het gevra of hy van die strooi kan koop en was baie in sy skik toe die man alles aan hom verkoop. “Ons sal sterker huise bou as joune!” het die ander twee varkies gese. Hulle het hom gegroet en verder gestap. Langs die pad het hulle ‘n man ontmoet met ‘n groot bondel stokkies op sy rug. Die tweede varkie was baie opgewonde en het dadelik die stokkies gekoop. Die derde varkie het alleen aangestap. Hy het ‘n man langs die pad gekry en hierdie man het ‘n klomp bakstene gedra. Die derde varkie was ook die slimste varkie en hy het dadelik al die bakstene gekoop.

Toe bou die eerste varkie vir hom ‘n huisie van strooi. Die tweede varkie vir hom ‘n huisie van stokkies. En die derde varkie het vir hom ‘n mooi en stewige huisie van bakstene gebou. Hy het lank daaraan gebou, want dit was ‘n baie sterk huisie. Toe hy klaar was, was hy baie in sy skik en het gese: “Nou sal die wolf my nie kan vang en opvreet nie!”

Die volgende dag het die wolf met die pad langs gestap en by die strooihuisie gekom wat  die eerste varkie gebou het. Die varkie het vinnig sy huisie se deur gesluit. Die wolf het aan die deur geklop en gese: “Varkie, varkie, laat my binnekom!” “Nee, nooit!” het die eerste varkie gese. “Dan sal ek jou huisie omblaas” het die wolf gese. Hy haal toe diep asem en blaas die strooihuisie om. Toe vreet die wolf die eerste varkie op.

Die wolf het die volgende dag verder gestap en by die stokkieshuisie van die tweede varkie gekom. Die tweede varkie het vinnig sy huis se deur toegesluit. Die wolf het aan die deur geklop en gese: “Varkie, varkie, laat my binnekom!” ‘Nee, nooit!” het die tweede varkie gese. “Dan sal ek jou huisie omblaas” het die wolf gese. Hy haal toe diep asem en blaas die stokkieshuisie om. Toe vreet die wolf die tweede varkie ook op.

Die volgende dag het die wolf verder gestap en by die baksteenhuisie gekom wat die derde varkie gebou het. Die varkie het vinnig sy huisie se deur gesluit. Die wolf het aan die deur geklop en gese: “Varkie, varkie, laat my binnekom!” “Nee, nooit!”  het die derde varkie gese. “Dan sal ek jou huisie omblaas” het die wolf gese. Hy het diep asemgehaal en geblaas en geblaas, maar die baksteenhuisie val nie om nie. Die wolf was baie kwaad gewees. “Varkie, ek gaan jou nou dadelik opvreet. Ek gaan in die skoorsteen afklim en jou kom vang!” Die varkie was baie bang en het ‘n groot pot water op die stoof gesit om te kook. Wolf het op die dak geklim, by die skoorsteen in en af onder toe. Toe hy amper onder was, het die varkie die deksel van die pot afgehaal en die wolf het pardoems binne-in die kookwater geval. Die derde varkie was te slim vir hom.

************** DIE EINDE **************

2.  DIE DRIE VARKIES (DIE MODERNE WEERGAWE)

‘n Tydjie gelede was daar drie varkies, genaamd Spek, Spagetti en Spoetnik. Hulle het by hul  moeder, Mev. Strohrum gewoon. Op ‘n dag het Sambuca Strohrum haar gemanikuurde kloutjies dwars gesit. Sy was keelvol vir hierdie drie skepsels van haar. Hulle het alewig geneul oor haar drinkgewoontes, wat aan die sterk kant was. Boonop het hulle versuim om losies te betaal  en ‘n ou ekstra geldjie sou nie skade aanrig nie. Daarmee sou sy haar groot dors, sonder enige bekommernisse kon les.

Die jong varke het wal gegooi en plegtig beloof om hul snoete uit haar semels te hou. Mev Strohrum het egter kloutjie by stuk gehou, Hulle was spekvet en oud genoem om in die huwelik te tree en varkhok op te sit. Sy het vir elkeen ‘n splinternuwe Billabong reisigerstas gekoop en die pakwerk aan hulle oorgelaat. Daarna het sy vir al drie ‘n enkelrit buskaartjie in die klou gestop.

Hul vader se erfporsie is tussen die drie van hulle verdeel en daarom was geld glad nie ‘n kwessie nie. Elkeen het sy eie kredietkaart gehad, wat nog lank nie sy limiet sou oorskry nie. Op die bus na Pretoria (of nou Twane) het daar in elkeen se kop ‘n plan vorm aangeneem. Hulle was baie opgewonde, onwetend van die drie wolwe (ja, die sprokie voorsien aan elke varkie sy eie wolf) wat op hulle wag.

Spek was duidelik sigbaar, te danke aan sy voorliefde vir voedsel. Hy het ook nie gestroom om self agter die kookpotte te staan nie. Om met eksotiese disse te eksperimenteer was een van sy gunsteling tydverdrywe. Hy het besluit om ‘n restaurant te open. Spagetti was die maerste van almal. Hy het die mooi en duur dinge in die lewe waardeer. Hy het besluit om sy geld aan ‘n sportmotor en huis in die voorstede van Johannesburg te bestee. Spoetnik was vinnig en sy passie was sport. Hy het ‘n lyf gehad wat menigte varke skokkend pienk van jaloesie gehad het. Elke spek was op sy plek…. en hy het dit geweet. Hy het sy geld aan oefenmasjiene bestee.

Spek se vreemde kombinasies het slegte spysvertering aan inwoners besorg. Dit was nie lank nie of die gesondheidsinspekteur (wolf) maak sy opwagting en beveel Spek aan om toe te maak. Arme Spagetti se huisverband en motorpaaiemente het begin ophoop. Binnekort was die belastinggaarder (wolf) op sy spoor. Spoetnik, die beer onder die soe, was ook in die moeilikheid. Een van sy aanstaande skoonma’s (in die geval ‘n wolvin) het hom met ‘n seer hart gesoek.

Hulle het koppe bymekaar gesit en drie weke later het hulle hul vyande vir ete genooi. Spek het een van sy gunsteling geregte opgetower. Een na die ander het die gaste onwel begin voel. Met behulp van Spoetnik se afrigting kon hulle,  hulle vinnig uit die kloue maak.

Deesdae swerf hulle deur Europa en rits rond in Spagetti se Lamborgini. Elke maand ontvang Mev Strohrum ‘n bos varkore en lees ‘n poskaart van erens. Spek vertel van al die disse wat hulle op die proef stel. Spagetti vertel in kleur van al die motorskoue en argitektuur, Spoetnik van al die mooie soe…… Dan kyk sy na al die dagvaardings, dreigemente en belastingaanslae….. en skink vir haar nog ‘n enetjie…. die derde… een op elkeen van haar varkies. Goed so, dink sy, nou kan ek maar die res van die bottel kry…. En knipoog vir die portret van haar oorlede beer. Elke vark kry sy dag (En in elk geval kry sy nou meer blomme as ooit tevore, wat natuurlik ‘n bonus is).

************** DIE EINDE **************

3.  DIE DRIE VARKIES (DIE CHRISTELIKE WEERGAWE)

Daar was ‘n ma-vark. Sy het drie varkies gehad. Op ‘n dag besef sy dat sy haar varkies moet uit stuur om self te gaan werk en hulle toekoms self te gaan bepaal.

Die Here het dieselfde met elkeen van ons gedoen.

Die eerste varkie hou nie van harde werk nie. Hy bou gou gou sodat hy kan rus. Hy is ‘n lei vark. Die Christen wat nie wil werk aan sy verhouding met Jesus nie. Daar was ‘n ou wat kla dat elke keer wat hy kerk toe kom sing hulle dieselfde liedjies. Betlehem ster en Stille nag. Probleem is hy kom net kerk toe op Kersfees. Die Tweede varkie is meer besorgd oor die uiterlike as verantwoordelikheid en gehoorsaamheid. Sy huis neem hom nie baie langer om te bou as die eerste vark s’n, maar dit lyk darem beter. Hy weet dat as die storm kom, gaan dit nie hou nie, maar daar was so lanklaas ‘n storm…. Die derde varkie het met bakstene gebou op ‘n sterk fondasie. Hy moes hard werk om sement aan te maak en swaar dra aan bakstene bou. Hy het geweet as hy klaar is, sal hy veilig kan rus.

1Kor 3:11: Want niemand kan ‘n ander fondament le as wat daar gele is nie, dit is Jesus Christus!

************** DIE EINDE **************

4.  DIE DRIE VARKIES  (MAMMA ARNELL SE WEERGAWE)

Eendag lank, lank gelede was daar ‘n mamma  “varkie”  gewees en ‘n pappa  “varkie” . Die mamma “varkie” se naam was Arnell en die pappa “varkie” se naam was Kobus.  Hulle wou bitter graag ‘n baba “varkie”  he. Elke liewe dag het hulle gebid dat miskien eendag sal hulle ook ‘n baba “varkie”  he soos al die ander “varkies”  om hulle.  Ongelukkig was daar ook ‘n Wolf (Infertiliteit) gewees. Eendag toe hulle baie moedeloos was, na so baie probeer het hulle by ‘n Dokter “varkie”  uitgekom en sy naam was Dr. Stephan Volschenk gewees. Dr. Stephan het dadelik hierdie twee “varkies” se hartseer en pyn raakgesien en besluit om hulle te help. Mamma Arnell  het dadelik van Dr. Stephan gehou en hom ten volle vertrou. Dit was ook nie gou nie of Mamma Arnell doen haar eerste Invitro by Dr. Stephan. Dit het ongelukkig nie gewerk nie en Dr. Stephan, Pappa Kobus en Mamma Arnell besluit om nog ‘n Invitro te doen. Hierdie keer werk dit, maar hou nie lank nie want Mamma Arnell verloor die baba “varkie”. Nou baie moedeloos en hartseer besluit Dr. Stephan, Pappa Kobus en Mamma Arnell om maar weer te probeer en Whola Mamma Arnell raak  swanger met nie net een “varkie” nie, maar met drie!

Op Maandag die 22ste September 2008 word drie pragtige “varkies” gebore in Sandton Medic Clinic.

Quintin, Reinhardt en Zander Botha!

Vandag is hulle al vier jaar oud. Hulle is nie altyd baie soet nie. Hulle is nie altyd baie gehoorsaam nie. Maar hulle is super cute en die mooiste drie “varkies” ooit!

Die Drie Varkies – ons eie Sprokie….

And they live happily ever after!

Ps:  en ja! Die drie Varkies was en is groot Sharks Supporters!

************** DIE EINDE **************

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s